Oom Sias

Op 4 April sou Oom Sias 92 geword het. Helaas is hy nie meer bereikbaar nie. N peetvader en raadgewer en geestesgenoot wat n groot deel van my verwysingsraamwerk vorm.

Elke Sondagmiddag het hy n oproep verwag en eers uitgevra oor die weer en boerdery en dan vertel van interssante gebeure soos die nuwe renosterkalfie of familie wat by hom gekuier het of nuus oor sy kleinkinders en oor politieke verwikkelinge kommetaar gelewer.

Van kleins af was hy n ware entrepreneur. Sy eerste besigheid was om maer verwaarloosde donkies by die plaaslike skut op Lagersdrift te koop teen n sikspens of n sjieling en hulle met akkers en groenteskille en semels vet te voer en reg te leer ; blink te roskam en dan aan gretige kopers te verkoop vir n halkroon! Dit was in die 1930s toe hy so 10 jaar oud was.

Gedurende die oorlogsjare toe wol baie skaars en duur was het hy al die pluisies van die doringdrade af versamel en n baal vol elke maand verkoop aan die rondreisende wolkoper.

Ek het hom goed leer ken toe hy ekonomiestudent in Pretoria was (na-uurs) en naweke by ons in Johannesburg gekuier het. Vrugtebome gesnoei en perskes ingele en vir ons n swemdam en windpomp aangele het.

Een Saterdagmiddag is ons almal in die groen Hudson na Randfontein waar n bankrot kasteroliefabriek gelee was. (Die olie is ipv diesel in die oorlogstenks gebruik) .Yslike hope kasteroliedoppe en geroeste perse en n sylyn was in die groot sinkskuur te sien.

Sy eerste produk was sorghumbier-poeier vir al die werkers van die nuwe goudmyne op die Wesrand en OVS en omdat hy nooit enigiets vermors het nie het hy sommer gougou n troppie Merinoskape rondom die fabriek op kikyu-gras aangehou en hulle vetgevoer op die ontkiemende sorghum-afval. Sy eerste woltjek was meer as sy inkomste uit die magou-poeier!

Ek onthou hoe trots hy was toe die vleisraad spesiaal kom kyk het na sy boerdery nadat die plaaslike slagpale berig het oor sy reuse-lammers wat groter was as die volwasse skape en nie as lamsvleis geklassifiseer kon word nie.

Hy was altyd lus vir nuwe uitdagings en het grondbone en sonneblom en mielies en die nuwe sorghum aangekoop en verwerk. Op besoek in de VSA het hy produkte in die supermark gekoop en geproe. Een van sy suksesvolste produkte was kitsmieliepap, elke grensdienssoldaat sal dit onthou. Ook nuwe soorte grondbonebotter en mayonnaise en slaaisouse en sorghumpap het op die winkelrakke verskyn. Toe ek kort na sy 91e verjaardag met hom gesels het oor sy begindae het hy gespog dat daar nou 30 sylyne by die fabriek is om al die mayonnaise en grondbonebotter te hanteer.

Na hy afgetree het het hy n stukkie droe erfgrond naby Stofberg in n wildplaas van formaat omskep. Kameelperde en koedoes en renosters en wildsbokke maar nie leeus nie!

 

o

 

Advertisements